top of page

Landbou Lééf in die Kalahari.

  • Writer: Nerine Blankestijn
    Nerine Blankestijn
  • Sep 29, 2025
  • 3 min read

Landbou is nie net ’n beroep nie. Dit is ’n lewenswyse. In Namibië speel boerdery ’n onmisbare rol in voedselsekerheid, werkskepping en gemeenskapsontwikkeling. Hierdie jaar se Stampriet Skou het dit weereens beklemtoon: landbou is die hartklop van ons nasie en die sleutel tot ’n volhoubare toekoms.


Hugo Lambert (Graad 3), besig om lekker landbou uit te toets.
Hugo Lambert (Graad 3), besig om lekker landbou uit te toets.

Roots Gimnasium se landbouleerders het in September die voorreg gehad om die Stampriet Skou by te woon, waar hulle die unieke landboukultuur van nader kon ervaar. Van veekampe en landbou-uitstallings tot die trots van plaaslike boere in die ring, het die skou ons leerders die waarde van harde werk, toewyding en innovasie laat sien. Vir baie was dit ’n leerervaring buite die klaskamer en ’n geleentheid om te beleef hoe teorie in praktyk verander.


By die skou het leerders ook die geleentheid gekry om die vermaaklike én insiggewende hondeskou by te woon wat vir groot belangstelling gesorg het. Nog ’n hoogtepunt was toe sommige van ons leerders deelgeneem het aan Agrimark se voersak-gooi kompetisie, wat nie net vir lekker lag en spanwerk gesorg het nie, maar ook die belangrikheid van praktiese vaardighede en krag in landbou beklemtoon het.


Die skaaphond vertoning, aangebied deur Attie Gunter van Suid Afrika was een an die hoogtepunte van die skou. - foto: Simone Kauert Photography
Die skaaphond vertoning, aangebied deur Attie Gunter van Suid Afrika was een an die hoogtepunte van die skou. - foto: Simone Kauert Photography
Conrad Kirsten en Miheshco Mouton voor die Agrimark Voersak-gooi kompetisie.
Conrad Kirsten en Miheshco Mouton voor die Agrimark Voersak-gooi kompetisie.

’n Spesiale trots vir ons skool was om een van ons eie, Johannes Steyn, se prestasies te vier. Johannes, 'n Graad 10-leerder en jong boer met ’n diep liefde vir die plaaslewe, het sy merk gemaak in die skouring met sy Persie-stoetery. Sy reis het begin met slegs ’n paar skape, maar drie jaar gelede het hy sy droom ernstig aangepak en sy eie stoetery begin. Met harde werk, lang ure tussen die diere en ’n fyn oog vir detail het sy boerdery vinnig gegroei.


By die Stampriet Skou het Johannes se toewyding vrugte afgewerp met ’n indrukwekkende lys toekennings:

  • Junior Kampioen Persie-ooi

  • Senior Kampioen Persie-ooi

  • Groot Kampioen Persie-ooie

  • Res Groot Kampioen Persie-ooi

  • Senior Kampioen Persie-ram

  • Groot Kampioen Persie-ram

Johannes Steyn en die hanteerders staan trots vir 'n foto saam sy kampioen Persie ooie.
Johannes Steyn en die hanteerders staan trots vir 'n foto saam sy kampioen Persie ooie.

Johannes se sukses strek egter veel verder as net die Stampriet Skou. By die Grootfontein Skou het hy weer met trots uitgestaan toe sy Persie-ooi gekroon is as interraskampioen. Hierdie besondere ooi was nie net die interraskampioen nie, maar ook die raskampioen en juniorkampioen in haar kategorie. ’n Prestasie wat sy toewyding en visie vir kwaliteit teling duidelik bevestig.


Johanner Steyn (3e van regs) by die Grootfontein Skou.
Johanner Steyn (3e van regs) by die Grootfontein Skou.

Hy verduidelik self dat stoetboerdery groot dissipline verg: van die noukeurige keuse van ram en ooi, tot die voorbereiding van lammers en die intensiewe sorg wat nodig is om diere skou-gereed te maak. Sy visie is gegrond in ’n passie vir genetiese kwaliteit en die droom om sterk, betroubare diere te teel wat ’n bydrae tot die kommersiële boerdery kan maak.


Johannes se storie is ’n inspirasie vir sy medeleerders – ’n bewys dat toewyding, passie en ’n liefde vir landbou ongeag ouderdom, groot vrugte kan dra.


By Roots Gimnasium glo ons dat sulke ervarings en geleenthede die grondslag lê vir leer en groei. Ons sal aanhou om ons horisonne te verbreed en vir ons leerders die kans te gee om deel te word van ’n toekoms waarin landbou steeds ’n sleutelsektor en trots van Namibië is.

Comments

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating
bottom of page